U moet in die volgende maande die allerbelangrike besluit neem oor die Hoërskool waar u u kind moet inskryf vir sy/haar Hoërskoolloopbaan.
U
moet verskeie faktore in ag neem, soos: Die Kurrikulum van die skool,
Buitemuurse Aktiwiteite, Afstand van u huis en dalk die daaglikse roete
wat u sal moet ry om hom/haar op en af te laai.
U moet egter ook die volgende vrae vir u self afvra: Gaan my kind
gelukkig wees in die Hoërskool waar ons hom/haar wil inskryf ?
Gaan my
kind vinnig tuis voel en deel raak van sy nuwe skool of gaan hy weg raak
in die massa ?Gaan my kind na 5 jaar die “groot wêreld“ kan instap as
‘n goed gebalanseerde jong man/vrou ?
Hierdie vrae is BAIE belangriker as die eerste stel vrae. U antwoorde op
die tweede stel vrae gaan inderdaad u kind se toekoms bepaal. Feitlik
al die skole wat u gaan oorweeg, het ongeveer dieselfde kurrikulum,
buitemuurse aktiwiteite en dienste soos Beraders en Busvervoer. Dit kan
dus nie die bepalende faktor wees
nie !
U kind se geluk en potensiële groei moet die bepalende faktore wees !
Sannies
is ʼn skool met ʼn ryke tradisie en ʼn trotse geskiedenis. Die impak wat
oudleerlinge in Bloemfontein, die Vrystaat, Suid-Afrika en selfs die
wêreld gemaak het, is onmeetbaar groot. Ek het die afgelope tyd diep
onder die indruk gekom van die geweldige groot groep leerders,
oudleerders, ouers en oudouers wat ʼn besondere liefde vir ons skool het.
Dit maak my baie opgewonde oor die toekoms.
Sand du Plessis was
nog altyd en is nog steeds baie trots op die gehalte kind wat ons die
wêreld instuur. Ons werk hard daaraan om te verseker dat kinders die
waarde van harde werk, as voorwaarde vir sukses, besef. Elke onderwyser
by Sannies is trots op ons skool en sy kinders. Elke kind is uniek en
kosbaar en verdien om raakgesien te word. U kind sal nooit net ʼn nommer
in die massa by Sannies wees nie.
ʼn Keuse om u kind na Hoërskool
Sand du Plessis te stuur, sal groot dividende vir u as ouer en vir u
kind oor baie jare lewer. Kom besoek gerus ons skool en vergewis u van
die feite.
Enige ouer of persoon wat dit oorweeg om sy kind in
Hoërskool Sand du Plessis te plaas is ook welkom om my by die skool te
kom spreek. My deur staan oop vir u!
Mnr. W du Buisson, Skoolhoof